From Club Mykonos to Cape Town via Robben Island
Wat ‘n lekker en LANG dag.
Mossie Basson is ‘n goeie vriend en die rede dat ek vir Annie (my H23) het. Sien, my eerste seil (as passasier) was ‘n rustige een op sy H34 van Mykonos tot by Slipway in Saldana en terug. Ek MOES ook een hê en hy het ‘n H23 aanbeveel. Baie goeie raad, soos julle seker almal weet.
Vandag en gister het ek so paar sms’se van hom gekry. Nou vanoggend se een het ek so bietjie laat gekry, want ek het eers 9h30 opgestaan en dit was al voor agt gestuur.
Dit het as volg gelees “Wat is die plan vir vandag. Kan jy Kaap toe motor?? Action Yachting is die plek daar vir herstel.” Nou dit sê klaar dat alles nie heel reg verloop het nie, maar kom ons begin so bietjie vroeër.
Annie lê by Mykonos en dit is waar ek maar gewoonlik seil en was nog nie verder suid as Dassen met haar nie. Maar toe ek vir Coenie bel en sê dat ek so vir ‘n maand wil afkom Kaap toe en bietjie hier rondseil is daar sommer vir my besluit dat sy hier sal bly tot Januarie vir die West Coast Cruise. Hoekom dan nou nie.
Wel Sondag (19 Sept.) se voorspelling het goed gelyk met 17 knope NNW (max) en ligte swel. ‘n Vriend van my hier in die Paarl, Hennie Smit, wat al heelwat Hoby’s en Tornado’s geseil het, het besluit dit klink na fun en toe het ek crew.
Op ‘99’ was sy drie dogters, Kyla (6), Vina (11) en Ané (13) ook crew en dit het my bietjie geworrie. Die weer was in ons guns, maar dis darem baie lank vir sulke jong kinders, wat nog nie geseil het nie, op so ‘n klein bootjie.
My jong crew
Die plan was om 06:00 toue af te gooi vir Houtbaai, maar as die donker ons vang sommer by RCYC vas te maak en ‘n paar dae later HBYC, FBYC en GBYC te doen. Saterdagmiddag by Mykonos aangekom, bootjie gepak en by die brandstof kaai ‘n draai gaan maak. Ons het toe besluit om Langebaan YC toe te seil
en sommer daar te braai en in die donker terug te seil. Dit sal mos ‘n goeie idee gee van hoe die kinders dit vat, terwyl daar nog omdraai is. Dit het baie goed gelyk. Ook vir Mossie laat weet ons is hier, want mens kan mos nie in sy dorp kom kuier sonder om te groet nie. Hy’t dadelik gesê die weer gaan nie goed wees nie, maar hy sal later op die net kyk en laat weet.
Terug by Mykonos en al vyf gekooi vir die nag. Kom die eerste sms, “As jy dan be… genoeg wil wees om in die voorspelde weer Kaaptoe te seil, vertrek dan so teen 0200 sodat jy die swak weer maksimum mis. Dit sal maak dat jy die moerse traffic om Kaapstad in ligdag tref.” Hom dadelik gebel en hy het laat weet dat die wind 35 knope gaan pomp. Dit afgeskryf dat hy knots misgekyk het vir km/h, maar tog my vrou gebel dat sy double check op Windfinder en 23 knope van haar gekry (windfinder of guro, watter een glo mens nou).
Teen 05:15 het ons los gemaak en met klein Kyla op haar pa se skoot daar weg. Net voor ses was ons by Juten. Vina en Ané het ook uit gekruip, die dag sien breek en die seile is opgetrek. Dit was idillies. Mossie het gebel om te hoor waar ons is, hoe dit gaan en dat hy ons op hoogte sal hou. Kort daarna die tweede SMS. “Nuutste wind. Vanaf 11uur. 19 tot 20 knope, met 25 knope gusts vir beide Kaap en Langebaan gebied. Dit het my sommer baie beter laat voel.
Ons het goed gedoen, so 5.5 – 6 knope gemiddeld en teen 11h00 was ons verby Dassen, maar daar vandaan met een reef in die main want toe staan ons al nader aan 7 knope. So 12h00 nog ‘n SMS “Hoe is dinge, waar trek julle?” Vir hom laat weet dat ons net verby Dassen is en ons so bietjie reën kry, maar dis net effe en het ons lats en longs vir hom gegee want ek hardloop toe al so tydjie op die kompas en wou net seker maak die koers is reg. (Wanneer jy nie ver om jou kan sien nie begin mens mos aan alles twyfel, dis nes mis, maar ek is nog ‘n rofie so julle sal seker verstaan).
Die meisies het my laat dink aan chipmunks, want hulle kon nie ophou knibbel nie, ek dink hulle het meer verorber as wat ek in ‘n week kan baasraak. Geen wonder klein Kyla het olik geraak nie, maar 30 sekondes later, lag sy weer.
Met die wind reg uit die noord, het ons gegoose-wing met een reef en ‘n ¾ furler wat gespalk is met die spineker pole, dan skep hy ook mos lekker. Die GPS het gemaklik geraak om 7 knope vir ons te wys. Twee keer 10.5 knope gelees terwyl ons die swel surf. Hel maar dis lekker.
Ek en Hennie het beurte gemaak op die tiller en ek glo redelik vertoue in mekaar gekry.
Ons moes die tiller maar redelik pomp op tye, om rigting te hou en die following sea het dit nie makliker gemaak nie. Op die stadium het ons nou al ‘n paar keer gebroach en die kinders wat onder oor mekaar val het net gedink dis ‘n groot grap en groot prêt. Ek was weggeslaan hoe die kinders die ‘gerieflike’ rit so geniet het, asof hulle dit elke dag doen.
15h00 En ons was een myl regs van Robbeneiland, ons lift laat weet dat hulle ons so 17h00 by RCYC kan kry, dan sal ons mos al veilig vas en afgepak wees.
Net daar tref dit die fan mooi centre. Die rudder-box se onderste bracket ruk uit en toe begin die sports. Dis nie regtig wanneer mens die spinneker paal op die genoa wil hê nie. Vir die kinders gevra dat hulle net eers af gaan terwyl ons gou losmaak en die seile laat sak. Dit het darem alles vlot verloop en ons was gou op motor. Ek het besluit om noord om die eiland te gaan tot by Robben Eiland se hawe want daar kan ons plan maak en die laaste ferry vertrek mos eers 17h30 met die laaste groep visitors, as dit dan moet.
Die outboard se lifting bracket werk baie lekker in die marina, maar om vir Annie broadside teen die wind en see te hou is ‘n ander storie. Ons het toe maar doughnuts gekap en gebriekdans tot by die hawe en glo my dit was nat. Alle respek vir daai engine bracket maar dis na gister, dertig jaar ouer, nie meer dieselfde nie en sal seker maar vervang moet word.
By die hawe geraporteer en maklik twintig keer gehoor “OK you can not stay here”. Ook verneem dat die ferries 14h00 gestop is as gevolg van die wind. Vir Mossie laat weet van die skade en dat ons veilig is. Die eerste persoon wat ons by die kaai ontmoet het, ook Hennie, ‘n bewoner wat daar op die kaai staan en visvang het, was baie behulpsaam en met ‘n welder, grinder, boor en lekker groot bench vice by sy huis, kon ek redelik vinnig (so paar uur) ‘n nuwe rudder box bracket aan mekaar slaan. Intussen het my crew vir Annie so bietjie aan die kant gemaak en vir ons ietsie op die kole gegooi.
Dit was agtuur en skemer toe ons weer vertrek vir RCYC en baie rustiger het ons ‘n uur en half later daar vas gemaak.
Dankie Mossie vir jou belangsteling en kommer oor ons.
En ook baie dankie vir ‘n ongelooflike crew, Hennie wat saam koelkop gebly het en sy drie Groot dogters.
Moet nooit kinders onderskat nie.
Op pad na LBYC vir die braai
Terug na Mykonos
